Verkenner Baaidraai

Penkop en Drawwertjie Spesialisasiedag
Oos-Kaap se PD Spesdag vind jaarliks in Maart plaas by die Van Stadenskloof Voortrekkerterrein. Daar is onderskeie spesialisasies vir elke graad wat aangebied word. Dis 'n prettige en baie leersame geleentheid wat deur elke jeuglid uiters geniet word.
Spesialisasies wat aangebied word, is as volg:
Gr R - Eina, Gr 1- Tuinier, Gr 2 - Veldkook, Gr 3 - Spoorkennis, Gr 4 - Dierekennis, Gr 5 - Beoresport, Gr 6 - Paraatheid, Gr 7 - Seremonies
BOKNES VERKENNERKAMP
Die volgende Spesialisasies word aangebied:
Gr. 8 - Seekunde en Roeikunde, Gr. 9 -Strandvernuf, Gr. 10 -Afrikanergeskiedenis en Voetslaner
Die spesialisasies is meestal toegespits op die see en strand juis omdat Boknes binne 500 meter vanaf die see geleë is.
Die Gr 10's in besonder sien elke jaar uit na die besoek aan die Karel Landman Monument en die kuier daar. Hulle moet natuurlik per voet tot daar kom...
Hier word spesiale vriendskappe gebou, mooi herinneringe gevorm en natuurlik bly die liefde ook nie agter nie.
Boknes Medemenskamp
Hierdie kamp vind jaarliks plaas saam met die Boknes Verkennerkamp te Boknes Voortrekkerkampterrein. Die Gr 7 jeuglede kry hier kans om die Medemens Beloftespesialisasie af te handel. Hulle doen ook 'n addisionele spesialisasie.
Spesialisasies wat aangebied word is Medemens en Strandbewustheid.
Kaba Selfbehoudkamp
Op hierdie kamp word die Selfbehoudspesialisasie aangebied vir Gr 11 jeuglede (veld en kus).

Verkenner Flinkdink
Flinkdink word gereël om Verkenners en Verkenneroffisiere op 'n aktiewe en praktiese wyse by te staan met die Verkennerwerk en portefeuljeopdragte, soos Afrikanerskap, Burgerskap en Christenskap. Dis nie net leersaam nie, maar vol opwinding en ure se pret. Foto's word geneem om die opdragte maklik te kan voltooi.

Senior Hanekamkamp
Op hierdie kamp word jeuglede onderrig in die Afrikanervolk se geskiedenis en hul eie herkoms. Hulle word geleer dat hulle baie het om op trots te wees.
Spesialisasies wat aangebied word, is as volg:
Gr 3 - Immigrante, Gr 4 - Groot Trek, Gr 5 - Delwerye, Gr 6 -Anglo Boere Oorlog,
Gr 7 - Afrikanerkind
Verkenner Avontuurkamp
Avontuur is die leuse! Elke jaar is 'n nuwe praktiese ervaring. Hier word jeuglede geleer om buite die boks te dink en om as 'n span saam te werk. Leierskapseienskappe word ontwikkel en 'n persoonlike verhouding met God herontdek. Tradisies, spanspele, kuier om die vuur, boogskiet, lekker eet, see-uitstappies en lekker uitdagings saam Voortrekkervriende, is die perfekte lokaas vir hierdie kamp.
Seekatkamp
Die Seekatkamp gee Gr 6 en 7 jeuglede die geleentheid om die nodige graadwielwerk speel-speel in kompetisievorm onder die knie te kry. Dit dien ook as 'n Voorslagafrondingskamp vir die Gr 7 jeuglede. Die kamp vind jaarliks te Boknes plaas.

Penkop en Drawwertjie Ruiterkuns
Ruiterkuns word jaarliks op Skietfonteinplaas net buite Somerset-Oos aangebied. Jeuglede kry die geleentheid om die kuns van perdry te bemeester en die vryheid van 'n plaasomgewing te ervaar. Die plaaskos is natuurlik slegs een van die hoogtepunte. Het jy al in 'n plaasdam geswem? Wel, wel hier sal jy die geleentheid kry?

Penkop en Drawwertjie Gebiedskamp
Hierdie kamp bied jeuglede die geleentheid om in die mooi natuurskoon van Boknes meer oor hulle onderskeie onderwerpe te leer en natuurlik op die strand te baljaar.
Spesialisasies wat aangebied word, is as volg:
Gr R - Wikkel/Vonkies, Gr 1 - Diaz, Gr 2 - Ou Kaap, Gr 3 - Toeka & Seeplante, Gr 4 - Noodhulp & Vasbyt , Gr 5 - Roeikuns & Spanseremonies, Gr 6 - Sterrekunde & Spoorsny

Oos-Kaap Voorslagkamp
Gebiedskamp vir Gr 7 Jeuglede
Hierdie evalueringskamp vind jaarliks te Boknes plaas . Alle Gr 7 jeuglede word genooi om deel te raak van hierdie kamp en sodoende hulle kennis te toets.
Verkenner Jeugberaad
Hierdie kamp bied aan Verkenners die geleentheid om diensbaar te wees in die gemeenskap. Dit bied ook 'n platform vir kommunikasie tussen jeuglede en offisiere.

Verkenner Vlotvaart
So, jy dink jy ken die verskillende knope?
Hou jy van gesonde kompetisie?
Hierdie kamp is 'n praktiese geleentheid om die vaardighede wat jy aangeleer het toe te pas en uit te toets op die water. Spanwerk word aangeleer en vriendskappe gebou. Die kampvuur en sterrekombers is bonusse. Hierdie kamp vind jaarliks te Bruintjieskraal, Baviaanskloof, plaas.